spacer
spacer search

Suid-Afrika
Die Kaap is weer Hollands. Ons wag vir julle!

Search
spacer
Newsflash
Zing mee met de Afrikaanse zanger Pieter Smith en zie hoe makkelijk Afrikaans is!


de Tafelberg
Kies Jou Rigting
Tuisblad
Ons Nuus
Ander Nuus
Skakels
Nuus Skakels, RSS
Geskiedenis
Afrikaans
Woordenboek
Weblog Jan Paul
Weblog Caroline
Weblog Laura
Weblog Max
Weblog van Robert
Martijn in Australie
Gallery
goede hoop hexvlei

goede hoop hexvlei

Administrator
 
Tuisblad arrow Afrikaans arrow Die Germaanse herkoms van die Afrikaans

Die Germaanse herkoms van die Afrikaans Print E-mail
"My pen is in my hand," lees jy, "my water was in my land." Jy dink jy lees Afrikaans, maar dié kort, ietwat onsinnige rympie kan net sowel deur ’n volbloed Engelsman geskryf gewees het... iemand wat sy hele lewe lank nog nooit ’n enkele Afrikaanse woord gehoor het nie. Dis omtrent ’n koddige verskynsel dat daardie sinnetjies presies eenders geskryf word -- en dieselfde beteken -- in Engels sowel as Afrikaans!

Goed, die uitsprake van die woorde verskil in die twee tale, maar selfs dié is nog naby genoeg aan mekaar om ’n mens te laat besef dat daar op die een of ander manier ’n historiese verwantskap tussen Afrikaans en Engels moet bestaan.






Inderdaad. Altwee behoort tot die sogenaamde Wes-Germaanse taalstam en het in die reël ’n herkenbaar ooreenstemmende sinsbou, al bevat albei tale ook baie woorde en uitdrukkings wat hulle uit nie-Germaanse tale oorgeneem het. (Engels is byvoorbeeld verryk met ’n menigte woorde uit Latyn; Afrikaans het sommige van sy bekendse woorde, soos eina, by inheemse tale soos dié van die Khoikhoi gaan leen.)

Só is die wêreld vandag vol tale waarvan sekere groepe duidelik aan mekaar verwant is, maar wat weer soveel van ander taalfamilies verskil dat daar klaarblyklik geen verband tussen hulle kan wees nie. Enige sweempie van ’n verbintenis wat wel in lank vergange eeue kon bestaan het, is so deur die millenniums uitgewis dat die groepe hul gedagtes grammatikaal en andersins totaal verskillend verwoord. Die San (Boesman) praat immers glad nie soos die Inuit (Eskimo) nie.

Tale is gedurig aan die verander. Vandag se kinders praat nie meer presies soos hul ouers nie en húl kinders sal stellig in die toekoms ook weer hul eiesoortige spraak hê. Taalverandering kan wel baie stadig gebeur, soos wanneer daar remmende invloede soos skole en universiteite is, maar ook baie vinnig, waar gemeenskappe besonder afgesonderd woon en ongeletterd is.

Boonop kan elk van verskillende streke in ’n taalgebied sy besondere eiendomlikhede hê wat verskillende linguistiese stempels op gemeenskappe afdruk, sodat een taal binne ’n paar geslagte in verskillende dogtertale kan versplinter. Ná nog ’n klompie honderd jaar verstaan die mense van die verskillende dogtertale mekaar miskien nie eens meer nie.

Taalkundiges reken trouens tale is so veranderlik dat as jy vandag, sê, ’n groep Afrikaanssprekendes na ’n verafgeleë sterrestelsel in die ruimte sou stuur, hul nasate oor tienduisend jaar ’n taal sal praat wat net so van Afrikaans sal verskil as Chinees of Arabies!



Hoe ook al, dit is fassinerend om die duidelike ooreenkomste in eenvoudige woorde in Germaanse tale te bekyk. Byvoorbeeld:

AfrikaansEngelsDeensDuitsYslandsSweedsGoties
(uitgesterf)
AppelAppleÆbleApfelEpliÄppleAplus
BoekBookBogBuchBókBokBóka
DagDayDagTagDagDagDags
GenoegEnoughNokGenugNógNogGa-nóhs
HandHandHåndHandHöndHandHandus
HuisHouseHusHausHúsHusHús
NagNightNatNachtNóttNattNahts
NeeNoNejNeinNeitaNej
EenOneEnEinEittEnÁins
TweeTwoToZweiTveirTvåTwái

Waar ons nou weet dat Afrikaans van Wes-Germaans afstam, is dit interessant om verder die spoor van ons taal te volg van Oud-Nederlands (voor die jaar 1150) tot by sy huidige vorm. (Afrikaans en moderne Nederlands spruit altwee uit sewentiende-eeuse Nederlands.)

Van die oudste taalfase van Nederlands is bloedmin geskrifte oorgelewer, maar tog genoeg sodat dit moontlik is om Oud-Nederlands van die volgende taalfase, Middelnederlands, te onderskei. Van die Middelnederlandse periode (omstreeks 1150 tot 1500) is, danksy uitstekend behoue geblewe geskrifte, meer bekend -- en, omdat dit al baie soos ons taal van vandag geklink het, kan ’n Afrikaanssprekende heelwat daarvan met ’n bietjie inspanning begryp.

Hier is byvoorbeeld ’n paar reëls in Middelnederlands uit die mooi verhaal Karel ende Elegast:

"Daer die coninc lach ende sliep

Een heilich inghel an hem riep... Hi seide: "Staat op, edel man,
Doet haestelike u cleder an...."


Kan die leser dit ontsyfer? Miskien lyk die spelling nog ’n bietjie vreemd, maar as ’n mens dit hardop lees, klink dit nogal plek-plek soos Afrikaans. (Dit blyk dat die koning gelê en slaap het toe ’n heilige engel hom aanroep en sê: "Staat op, edel man, trek haastig u klere aan...")
Op die periode van Middelnederlands volg twee eeue vol van belangrike geskiedkundige ontwikkelinge vir die Nederlandse taal. Pogings tot taalsuiwering speel ’n belangrike rol in die eerste stappe om ’n standaardtaal te midde van die baie Nederlandse dialekte te vestig. Benewens die Bybelvertaling van 1637 -- die sogenaamde Statevertaling waarmee ons Suid-Afrikaanse voorouers so vertroud was -- verskyn ook die eerste grammatika van Nederlands, die Twe-spraack vande Nederduitsche letterkunst, asook woordeboeke wat ’n groot rol speel om vaste norme daar te stel.

Op die periode van Middelnederlands volg twee eeue vol van belangrike geskiedkundige ontwikkelinge vir die Nederlandse taal. Pogings tot taalsuiwering speel ’n belangrike rol in die eerste stappe om ’n standaardtaal te midde van die baie Nederlandse dialekte te vestig. Benewens die Bybelvertaling van 1637 -- die sogenaamde Statevertaling waarmee ons Suid-Afrikaanse voorouers so vertroud was -- verskyn ook die eerste grammatika van Nederlands, die asook woordeboeke wat ’n groot rol speel om vaste norme daar te stel.
Dit is Nederlandse dialekte uit hierdie tyd wat op Suid-Afrikaanse bodem oorgeplant is. Dit is uit hulle dat die kern van die Afrikaanse taal ontwikkel het.


Daar is verskeie teorieë oor hoe Afrikaans werklik ontstaan het in die dolle maalkolk van Nederlandse, Duitse, Franse, Maleis-Portugese, Khoikhoi- en ander sprekers aan die Kaap, maar die grondslag vir die nuwe taal is duidelik reeds vroeg-vroeg, sommer in die eerste jare van die volksplanting al, gelê. Die voertaal was spoedig nie meer suiwer Nederlands nie.

In die middel van die 1700’s was die proses van defleksie (verdwyning van Nederlandse buigingsuitgange) al so ver gevorder dat ’n eie variant van Nederlands reeds hier tot stand gekom het, die sogenaamde "Kaap-Nederlands". Van die tweede helfte van die 1700's af was ’n eie taalsisteem gevestig.

En wanneer ’n mens die volgende aanhaling in die hekeldig Kaatje Kekkelbek lees, wat in die 1830’s geskryf is, kom ’n mens agter dat die Afrikaans van meer as anderhalf eeu gelede, uitgesonderd die klompie Nederlandismes in die teks, reeds so onmiskenbaar Afrikaans is soos enige geskrif van vandag in dié taal.

Kaatje Kekkelbek vertel onder meer:

"Ons het die dag so lekker sit en karnaatjes eet, dat de vet solangs de bek afloop -- maar hier kom de Boer by ons uit met zyn overgehaalde haan en sleep ons heele spul na de tronk."

Afrikaans is dus die jongste baba in die Germaanse genealogie. Hy is nog hups en vlytig aan die gang, maar dit hang van ons, sy gebruikers, af of hy lewenskragtig gaan bly of ondergeploeg gaan word in ’n grootliks veranderende wêreld.
En ons kan nie genoeg daaraan herinner word dat Afrikaans ons trotse erfenis is nie... die produk van eeue der eeue se meet en slyp om volmaak in ons monde en harte te pas soos geen ander taal op aarde nie.
Laatst Aangepast ( dinsdag, 29 november 2005 )
< Vorige   Volgende >
spacer

© Kopiereg SuidAfrika.nl 2005-2006

spacer
 
eXTReMe Tracker