Op 20 Januarie 2005 land ek vir die eerste keer in Europa. Onmiddelik herken ek en Michiel vir Rik Wever, ons eerste skakel met Nederland. Hy het homself beskryf as blond met ’n bril en gesê dat hy ’n bruin baadjie sal aanhê. Volgens my is dit omtrent ’n beskrywing van die helfte van Nederland se inwoners, maar om een of ander rede het ons dadelik geweet hy staan en wag vir twee baie verwarde Suid-Afrikaners.
Ons klim op die trein en sien Leiden vir die eerste keer in die nag. "Click, Click" gaan ons skoene op die keistene, vreemd vir iemand wat gewoond is aan teer, of selfs net stofpaaie. "Dit lyk dan soos ’n speel-speel wêreld," sê ek aan Rick se vriendin, maar sy verstaan nie. Dit was my eerste impressie van die aanmekaar huisies, die windmeulens en gragte.
Op hierdie eerste aand reën dit nie, daar is net die snerpende koue lig wat jy omtrent nie kan inasem nie. Dit het my laat dink aan die Karoo op ’n wit gerypte wintersoggend, maar die vergelyking stop daar. Die Nederlandse landskap en argitektuur is veel meer kompak as wat ek my voorgestel het.
Merkwaardig genoeg het dit die eerste ruk wat ons hier was nie soveel gereën nie. Daar het wel ander vorme van water uit die hemels geval: Dit het gesneeu en sommer baie! Dit voel vreemd om nou, in my somersklere in ’n heerlike warm Leiden, terug te dink aan die drie paar broeke en vyf paar truie waarmee ek die sneeu aangedurf het. Michiel het ’n hele reeks foto’s: "Fiets in sneeu," "Herensteeg in sneeu," "Die huis in sneeu," ens. Vir ’n Suid-Afrikaner is sneeu werklik iets om af te neem en ek dink dit het veel meer aandag gekry as die historiese geboue en museums wat ons besoek het.
Nogsteeds is die taal vreemd vir my, al kan ek nou omtrent alles verstaan wat gesê word en het ek ek weet nie eers hoeveel Nederlandse boeke agter die rug nie. Dit is soos Afrikaans met stukkies aan elke woord aangeheg!
Na net meer as vyf maande gee ek nou al outomaties drie soentjies op die wange, stap ek aan die regterkant van die straat en weet ek wanneer ek kan "chippe" of "pinne." Dit is ongelooflik hoe gou die stad, wat vir my eers soos ’n fantasiedorpie vir poppe gelyk het, ’n plek geword het waar ek woon en eet en elke dag my weg baan in Rapenburg af om my klasse by te woon. Hoe romanties jou omgewing ook al is, die akademie bly maar min of meer dieselfde en gou-gou het ek hier net soveel tyd in die biblioteek begin spandeer as wat ek in Stellenbosch gedoen het.
Ek het ook baie gou agtergekom dat studente dieselfde is, maak nie saak waar jy gaan nie.
Mense vra my wat ek sal mis van Nederland en dit is moeilik om te sê. Ek dink dit is meer die alledaagse dinge as enigiets spesifiek. Om Hoogvliet toe te stap om ’n halwe brood te gaan koop of in die mark rond te dwaal vir ’n paar uur met die totaal van jou aankope twee tamaties en ’n pakkie stroopwafels. Ek dink terug in Suid-Afrika gaan ek ewe skielik besef dat die lug anders ruik en dan ’n gevoel mis wat nie meer daar is nie.
’n Verslag van ’n Suid-Afrikaner in Nederland
Michiel Heyns
Julie 2005
Wanneer ’n mens in ’n vreemde land woon, neem dit jou ongeveer vyf maande om die kort paadjies te leer ken. In Leiden: vanaf Breëstraat déúr Gekroonde Liefdepoort, déúr Lombardipoort tot by die Herensteeg, in plaas van deur Pieterskerkchoorsteeg en dan halfpad rondom die Pieterskerk. Of van die Herensteeg af kortpad deur die Hortus Botanicus tot by die Lipsius-gebou of die Universiteitsbiblioteek in plaas van áf met Rapenburg en dan links na die hoofgebou.
Bykans vyf maande het dit my geneem om hierdie kortpaaie te ontdek.
Ek dink dat integrasie binne die Nederlandse samelewing vir ’n (Afrikaanse) Suid-Afrikaner redelik maklik kan plaasvind. Toegegee, vir ons generasie wat nie soos dié van vervloeë tye Nederlands as ’n tweede of derde taal op skool onderrig is nie, kom die taal aanvanklik vreemd en moeilik voor, maar dit is merkwaardig hoe vinnig ’n mens se oor fyn ingestel word en sonder dat jy dit agterkom, volg jy later moeiteloos meer as een gesprek tegelyk. Om dit te praat is natuurlik ’n gans ander verhaal, trouens, hoe langer ek in Nederland gewoon het, hoe meer het ek besef dat ek glad nie Nederlands kan praat nie! Maar wanneer die kalf in die put is, vind ’n mens, soms tot jou eie verbasing ’n uitweg. En boonop praat die deurslag Nederlander byna foutlose Engels, het ek tot my uiterste verbasing agtergekom - moontlik te wyte aan die feit dat die Nederlanders nie soos die Franse of Duitsers alle anderstalige TV-produksies vertaal nie, maar eenvoudig van ondertitels voorsien. (Een van die beste maniere om myns insiens wél ’n greep op die taal te kry is kinderprogramme - Spongebob Squarpants en Montana het meeval by die uwe gevind - of om die "engelse" programme te kyk en die Nederlandse ondertitels te lees).
Wat my wel opgeval het, is die groot aantal woorde in Nederlands wat van Engels of Frans geleen is. Waar ’n Afrikaanse persoon in die oggend sal stort sal sy Nederlandse broer gaan douche, ’n Afrikaner ry tot op die twintigste vloer van ’n gebou met ’n hysbak, terwyl die Nederlander sommer die lift neem en les bes - en hierdie was my beste party trick (sic) - in Nederland is kameleon en in Suid-Afrika verkleurmannetjies.
Die Nederlanders is by uitstek ’n volk wat praktiese, rasionele oplossings vir probleme vind en suksesvol uitvoer. Voorbeelde hiervan is natuurlik die gedoogbeleid ten opsigte van ingewikkelde sake soos prostitusie of dwelmgebruik, maar ook dinge soos Koopsondag of om ’n gigantiese vierhonderdjaaroue kerkgebou nie tot niet laat gaan nie, maar die beskikbare ruimte eenvoudig te gebruik vir enige iets van universiteitseksamens tot kommersiële tentoontellings. Ek dink daar sal ’n beduidende persentasie van die Afrikaanse bevolking wees wat heftig en emosioneel sal reaggeer indien daar ’n konsert, kompleet met bands, bier en kosstalletjies in die Tweetoringkerk in Bloemfontein gehou sal word.
Ek het dikwels die gevoel gekry dat die Nederlandse volk oor ’n saak sal nadink en argumenteer, nog iets wat my aangenaam verras het, want ek is voor my besoek deur verskeie persone gewaarsku teen die "beterweterige" Hollanders, maar die teendeel is byna waar: ’n Nederlander sal dit verwelkom indien jy moet hom of haar stry, trouens argumenteer is ietwat van ’n nasionale sport en indien jy nie op jou pasoppens is nie kan jy voor jy dit besef jouself maklik in ’n debat van etlike ure inpraat en dan is daar nie uitkomkans nie. In Suid-Afrika dink ek dat mense, veral oor sensitiewe sake, dikwels emosioneel, eerder as rasioneel reaggeer en sodoende die kanale vir suksesvolle debatvoering effektief afsny. If all else fails, sal twee Nederlanders na lank se redekawel kan agree to disagree en steeds as twee tevrede vriende uitmekaar gaan.
My wedervaringe in Nederland het my perspektief op die lewe wonderlik verryk. Oranje boven!